COVID-19 Corona-virus Suid-Afrikaanse hulpbronportaal
Wat ‘n vreemde jaar! Ons moes alles wat ons gewoond was om te doen, prys gee en die nuwe normaal aanleer. My eerste helde in hierdie uiters dramatiese verhaal is die personeel. Toe die grendeltydperk aangekondig is, het hul ingespring en fantastiese aanlynlesse uitgewerk. Party van die personeel moes vinnig die tegnologie bemeester en ander het net van gewoon na buitengewoon gevorder. In die 11 jaar wat ek by Danie Malan is, dink ek die personeel as ‘n geheel het meer geleer en bemeester in een maand as in die hele 11 jaar wat ek by die skool is. Hulle het webinare bygewoon en vaardighede aangeleer wat hul in die verlede vreesbevange gemaak het. Die jonger personeel wat die tegnologie maklik onder die knie gekry het, het ingespring en hul kollegas mooi gehelp. Dit het ons span baie sterk gemaak. Ek haal my hoed af vir elke onderwyser en dit wat hul vermag het. Danksy hul moeite is ons leerders op datum met die werk wat hul moes doen in hierdie jaar.
My tweede groep helde is die ouers. Sonder enige formele opleiding het ouers ingespring en die meneer en juffrou in die huis geword. Daar is videos gekyk, opdragte gedoen en gemerk. Eetkamertafels is ingerig as die klaskamer en ma of pa het die rol as onderwyser vertolk. Die inperkingswerk wat ons gekontroleer het, getuig van die moeite wat elkeen ingesit het. Sonder die ouers se hulp sou ons aanlynleerprogram nie ‘n sukses gewees het nie.
My derde groep helde is die leerders wat so getrou hul werk gedoen het, wat met elke mislike “meneer” of “juffrou” moes uithou selfs nadat die klok gelui het. Danksy hul harde werk is daar niks in hierdie jaar se kurrikulum wat hul nie gaan behandel nie. Selfs toe die skool begin het hul gemasker hul sosiale afstand gehandhaaf en die amper onmoontlike gestruktureerde omstandighede bemeester. Ek is elke dag verstom om te sien hoe ons leerders die nuwe regulasies aangeleer het en daarby hou. Ek weet dat hierdie beproewing ons leerders sterker en meer selfstandig gemaak het en beslis reg om enige uitdaging in die toekoms aan te pak. Hul weet nou hul is sterker as wat hul ooit gedink het.
Corona het beslis negatiewe dinge soos depressie en armoede tot gevolg gehad. Ons fokus regtig eerder op die positiewe en weet dat die onderwys danksy Corona in lyn is met die vierde industriële revolusie. Die verbetering wat dit op onderrig by Danie Malan gehad het is enorm.
As iemand voor 2020 vir my gesê het dat leerders wat net 2 of drie keer per week skool bywoon in elk geval die hele week se werk kan deurwerk – sou ek dit nie geglo het nie. Ons is die bewys daarvan. Die kleiner klasgetalle dra ook by dat die dissipline baie beter is en dat die onderwysers by elkeen uitkom. As jong kind het ek en u maar net kon droom van ‘n twee-dag-skool-week en ‘n vier-dag-naweek. Vir 2020 se leerders is dit ‘n realiteit – ‘n spesiale aanbieding, net geldig vir 2020 en ook net vir leerders.
Ons mis verseker die sport- en kultuuraktiwiteite. Ek kry elke seun en dogter jammer wat hierop uitmis.
2020 en al sy uitdagings is vir my ‘n bewys dat ons tot meer in staat is as wat ons besef, dat ons gehalte onderrig kan verseker as ons as onderwysers en ouers as ‘n span saamwerk en dat Danie Malan gehalte onderrig gelewer het ondanks baie uitdagings.
Baie sterkte vir die laaste gedeelte van die jaar. Mag ons eendag terugkyk na 2020 en al die goeie dinge onthou wat die jaar opgelewer het en dan weer opnuut ons vryheid van beweging sonder maskers, sosiale interaksie en sport en kultuur waardeer.